Thursday, February 24, 2011

Gedagtes van lente*


* (One post in Afrikaans, some things are better expressed in one's mother tongue)


“Ek sal jou graag in die lente en die somer wil sien” sê hy.  Die woorde het hy so terloops geuiter en niks meer daarmee bedoel as dit wat hy in die oomblik gedink het nie. Dit was nie ‘n uiting van toekoms planne nie, dit was nie ‘n verklaring van emosies nie. Dit was slegs ‘n opregte oomblik van bewondering toe hy met eens ook sien hoe die vel van my nek en skouers lyk sonder ‘n jas en winterserp.  

Hy het geen besef gehad van die poësie van sy woorde nie, geen besef hoe die sinne wat hy uiter my verlei om aan hom te dink in die lente en die somer nie.  En nou vind ek myself effens weerloos en oorgelaat aan die  kragte van die heelal. Die kragte van die heelal voel soms vir my veel sterker as my eie wilskrag. Daar is ‘n besef dat ek na die oomblik reeds  ‘n verlies kan ervaar en dat dit reeds te laat is om te wonder of ek wil ontrek of nie. Wat my daarvan oorweldig is dat die punt  my so bekruip het  dat ek nie weet of ek ooit die besluit  vir myself  kon neem nie, dit voel vir my die kragte het lankal reeds vir my besluit en dat die besluit nooit myne was nie.

Of ek hom gaan sien in die lente en die somer is nog nie bekend nie, maar om hom  nou af te keer blyk ‘n groter verlies en dwaasheid. Die lug buite vandag is blou en skinder dat die lente dalk oppad mag wees, maar dit is tog nog koud, dus bedek ek maar hierdie ongemak  met 'n jas en vou 'n serp om my kwesbaarheid.

0 comments:

Post a Comment